Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 16:13-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. Is dit nie genoeg dat jy ons uit ’n land wat oorloop van melk en heuning laat optrek het om ons in die woestyn om te bring, dat jy ook gedurig oor ons die baas wil speel nie?

14. Ook het jy ons nie gebring in ’n land wat oorloop van melk en heuning en aan ons geen lande en wingerde as erfdeel gegee nie. Wil jy die oë van hierdie manne uitgrawe? Ons sal nie opkom nie.

15. Toe het Moses baie kwaad geword, en hy het aan die Here gesê: Sien hulle offer nie aan nie. Ek het nie een esel van hulle geneem en nie een van hulle kwaad aangedoen nie.

16. Verder het Moses vir Korag gesê: Jy en jou hele bende, sorg dat julle môre voor die aangesig van die Here is, jy en hulle en Aäron.

17. En neem julle elkeen sy vuurpan en gooi daar reukwerk op, en bring voor die aangesig van die Here elkeen sy vuurpan, tweehonderd-en-vyftig vuurpanne, ook jy en Aäron elkeen sy vuurpan.

18. Toe het hulle elkeen sy vuurpan geneem en daar vuur op gegooi en reukwerk op gelê; en hulle het gaan staan by die ingang van die tent van samekoms, ook Moses en Aäron.

19. En Korag het die hele vergadering teen hulle bymekaar laat kom by die ingang van die tent van samekoms. Toe verskyn die heerlikheid van die Here aan die hele vergadering.

20. En die Here het met Moses en Aäron gespreek en gesê:

21. Skei julle af van hierdie vergadering, en Ek sal hulle in ’n oomblik verteer.

22. Maar hulle het op hul aangesig geval en gesê: o God, God van die geeste van alle vlees! Sal een man sondig en U op die hele vergadering toornig word?

23. En die Here het met Moses gespreek en gesê:

24. Spreek met die vergadering en sê: Maak dat julle wegkom rondom die woning van Korag, Datan en Abíram!

25. Toe het Moses opgestaan en na Datan en Abíram gegaan, en die oudstes van Israel het agter hom aan gegaan.

26. Daarop het hy die vergadering toegespreek en gesê: Verwyder julle tog van die tente van hierdie goddelose manne en raak nie aan iets wat aan hulle behoort nie, dat julle nie weens al hulle sondes omkom nie.

27. En hulle het gemaak dat hulle wegkom rondom die woning van Korag, Datan en Abíram; maar Datan en Abíram het uitgekom en gaan staan by die deur van hulle tente saam met hulle vroue en seuns en kindertjies.

28. Toe sê Moses: Hieraan sal julle weet dat die Here my gestuur het om al hierdie werke te doen, dat hulle nie uit my eie hart is nie:

29. as hierdie mense sterwe soos alle mense sterwe en met die besoeking van alle mense besoek word, dan het die Here my nie gestuur nie.

Lees volledige hoofstuk Númeri 16