Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 14:27-37 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

27. Hoe lank sal hierdie bose vergadering aanhou dat hulle teen My murmureer? Ek het die murmureringe van die kinders van Israel gehoor waarmee hulle teen My bly murmureer.

28. Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here, waarlik, soos julle voor my ore gespreek het, so sal Ek aan julle doen.

29. Julle lyke sal in hierdie woestyn lê, naamlik al julle geteldes, volgens julle volle getal, van twintig jaar oud en daarbo, julle wat teen My gemurmureer het.

30. Waarlik, júlle sal nie in die land kom waaroor Ek my hand opgehef het om julle daarin te laat woon nie, behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, en Josua, die seun van Nun.

31. En julle kinders waarvan julle gesê het: Hulle sal ’n buit word — dié sal Ek inbring en dié sal die land leer ken wat julle verwerp het.

32. Maar júlle lyke sal in hierdie woestyn lê.

33. En julle kinders sal soos herders rondtrek in die woestyn, veertig jaar lank, en sal so die gevolge van julle hoerery dra totdat julle lyke in die woestyn verteer is.

34. Volgens die getal dae dat julle die land verken het, veertig dae, vir elke dag een jaar, moet julle jul ongeregtighede dra, veertig jaar lank, en my teëstand gewaar word.

35. Ek, die Here, het dit gespreek; waarlik, dit sal Ek aan hierdie hele bose vergadering doen wat teen My bymekaargekom het. Hulle sal in hierdie woestyn omkom en daar sterwe.

36. En die manne wat Moses gestuur het om die land te verken en wat ná hulle terugkoms die hele vergadering teen hom laat murmureer het deur ’n slegte gerug aangaande die land te versprei,

37. die manne wat ’n slegte gerug aangaande die land versprei het, het gesterwe deur ’n plaag voor die aangesig van die Here.

Lees volledige hoofstuk Númeri 14