Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 13:13-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. Van die stam van Aser: Setur, die seun van Mígael.

14. Van die stam van Náftali: Nagbi, die seun van Wofsi.

15. Van die stam van Gad: Géhuel, die seun van Magi.

16. Dit is die name van die manne wat Moses gestuur het om die land te verken; en Moses het Hoséa, die seun van Nun, Josua genoem.

17. En Moses het hulle gestuur om die land Kanaän te verken en vir hulle gesê: Trek hier in die Suidland op en beklim die gebergte.

18. En bekyk die land, hoe dit is, en die volk wat daarin woon, of dit sterk of swak, of dit min of baie is;

19. en hoe die land is waar hulle in woon, of dit goed of sleg is; en hoe die stede is waar hulle in woon, laers of vestings;

20. ook hoe die land is, of dit vet of skraal is, of daar bome in is of nie; en wees dapper en bring van die vrugte van die land saam. Dit was toe die tyd van die eerste druiwe.

21. En hulle het opgetrek en die land verken van die woestyn Sin af tot by Rehob, na die ingang van Hammat —

22. hulle het in die Suidland opgetrek en tot by Hebron gekom; en daar was Ahíman, Sesai en Talmai, die kinders van die Enakiete. En Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou.

23. Daarop het hulle tot by die dal Eskol gekom en daar ’n rank met een tros druiwe afgesny, en twee het dit aan ’n draagstok gedra; ook van die granate en van die vye.

24. Dié plek het hulle die dal Eskol genoem vanweë die tros wat die kinders van Israel daar afgesny het.

25. En ná verloop van veertig dae het hulle teruggekom van die land te verken.

26. En hulle het weggegaan en by Moses en Aäron en die hele vergadering van die kinders van Israel gekom in die woestyn Paran, in Kades, en aan hulle berig gebring, en aan die hele vergadering en hulle die vrugte van die land laat sien.

27. En hulle het hom vertel en gesê: Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte.

28. Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien.

Lees volledige hoofstuk Númeri 13