Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemía 4:11-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. En ons teëstanders het gesê: Hulle mag niks weet en sien nie totdat ons tussen hulle inkom en hulle doodslaan en ’n einde maak aan die werk.

12. En toe die Jode wat by hulle gewoon het, inkom en wel tien maal, uit al die plekke, aan ons sê: Julle moet na ons toe terugkom —

13. het ek op die laagste plekke agter die muur, op die kaal plekke, manskappe opgestel — ek het die volk opgestel volgens hulle geslagte met hul swaarde, hul spiese en hul boë.

14. En ek het dit gesien en my opgerig en aan die edeles en die leiers en die ander mense gesê: Julle moet nie bang wees vir hulle nie; dink aan die grote en gedugte Here, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise.

15. En toe ons vyande hoor dat dit aan ons bekend geword het, en God hulle plan verydel het, het ons almal teruggegaan na die muur, elkeen na sy werk.

16. En van dié dag af was die helfte van my mense besig met die werk, en die ander helfte het die spiese en die skilde en die boë en die pantsers gehou, terwyl die owerstes agter die hele huis van Juda gestaan het.

17. Van die bouers aan die muur het die lasdraers hulle werk so gedoen dat hulle met die een hand die werk verrig het, terwyl die ander hand die werpspies vashou,

18. en die bouers het elkeen sy swaard aan sy heupe gegord en gebou, terwyl die basuinblaser by my gestaan het.

19. En ek het aan die edeles en die leiers en die ander mense gesê: Die werk is groot en uitgestrek, en ons is uitmekaar op die muur, die een ver van die ander af.

20. Op die plek waar julle die geluid van die basuin hoor, daar moet julle by ons bymekaarkom; onse God sal vir ons stry.

21. En ons het die werk gedoen, terwyl die helfte van hulle die spiese vashou vandat die rooidag uitkom totdat die sterre verskyn.

22. Ook het ek in dié tyd aan die volk gesê: Elkeen moet met sy kneg binnekant Jerusalem vernag, sodat hulle vir ons in die nag ’n wag kan wees en oordag ’n werkkrag.

23. Maar ek self en my broers en my mense en die manne van die wag wat my gevolg het, het nooit ons klere uitgetrek nie — elkeen met sy wapen en water.

Lees volledige hoofstuk Nehemía 4