Ou Testament

Nuwe Testament

Levítikus 6:4-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. as hy dan sondig en skuldig word, moet hy teruggee wat hy deur roof ontvreem of deur afpersing verkry het, of wat aan hom toevertrou was, of verlore goed wat hy gevind het;

5. of alles waaroor hy vals gesweer het: hy moet daar ten volle vergoeding voor gee en nog die vyfde deel daarvan byvoeg; aan hom aan wie dit behoort, moet hy dit gee op die dag as hy boete doen.

6. En hy moet van die kleinvee, na jou skatting, as boete aan die Here ’n ram sonder gebrek as skuldoffer na die priester bring.

7. Dan moet die priester vir hom versoening doen voor die aangesig van die Here, en dit sal hom vergewe word — enigiets wat ’n mens doen, sodat hy daardeur skuldig word.

8. VERDER het die Here met Moses gespreek en gesê:

9. Gee bevel aan Aäron en sy seuns en sê: Dit is die wet van die brandoffer: Dit, die brandoffer, moet op sy vuurherd op die altaar die hele nag lank tot die môre toe bly, en die altaarvuur moet daardeur aan die brand gehou word.

10. En die priester moet sy linnekleed aantrek, en die linnebroek moet hy oor sy vlees aantrek; dan moet hy die as wegneem waartoe die vuur die brandoffer op die altaar verteer het, en dit langs die altaar uitgooi.

11. Daarna moet hy sy klere uittrek en ander klere aantrek, en die as buitekant die laer op ’n rein plek uitbring.

12. En die vuur op die altaar moet daardeur aan die brand gehou word, dit mag nie doodgaan nie; maar die priester moet elke môre daaroor hout aan die brand steek en die brandoffer daaroor reglê en die stukke vet van die dankoffers daaroor aan die brand steek.

13. Vuur moet gedurigdeur op die altaar aan die brand gehou word; dit mag nie doodgaan nie.

14. En dit is die wet van die spysoffer: Die seuns van Aäron moet dit voor die aangesig van die Here voor die altaar bring,

15. en een moet daarvan ’n handvol neem, van die spysoffer se fynmeel met die olie, en al die wierook wat op die spysoffer is, en hy moet op die altaar die gedenkoffer daarvan aan die brand steek as lieflike geur vir die Here.

16. En wat daarvan oorbly, moet Aäron en sy seuns eet; ongesuurd moet dit geëet word op ’n heilige plek; in die voorhof van die tent van samekoms moet hulle dit eet.

17. Dit mag nie gesuurd gebak word nie; as hulle deel het Ek dit van my vuuroffers gegee. Hoogheilig is dit soos die sondoffer en die skuldoffer.

18. Almal wat manlik is onder die seuns van Aäron, mag dit eet. Dit is ’n ewige insetting vir julle geslagte uit die vuuroffers van die Here. Alles wat daaraan raak, word heilig.

Lees volledige hoofstuk Levítikus 6