Ou Testament

Nuwe Testament

Levítikus 6:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. VERDER het die Here met Moses gespreek en gesê:

2. As iemand sondig en ontrou handel teen die Here deurdat hy teenoor sy naaste ontken dat iets aan hom toevertrou of as pand gegee is of deur hom geroof is, of dat hy sy naaste iets afgepers het,

3. of dat hy iets gekry het wat weg was, en dit ontken; of dat hy vals sweer ten opsigte van enigiets wat ’n mens kan doen om hom daarmee te besondig —

4. as hy dan sondig en skuldig word, moet hy teruggee wat hy deur roof ontvreem of deur afpersing verkry het, of wat aan hom toevertrou was, of verlore goed wat hy gevind het;

5. of alles waaroor hy vals gesweer het: hy moet daar ten volle vergoeding voor gee en nog die vyfde deel daarvan byvoeg; aan hom aan wie dit behoort, moet hy dit gee op die dag as hy boete doen.

6. En hy moet van die kleinvee, na jou skatting, as boete aan die Here ’n ram sonder gebrek as skuldoffer na die priester bring.

7. Dan moet die priester vir hom versoening doen voor die aangesig van die Here, en dit sal hom vergewe word — enigiets wat ’n mens doen, sodat hy daardeur skuldig word.

8. VERDER het die Here met Moses gespreek en gesê:

9. Gee bevel aan Aäron en sy seuns en sê: Dit is die wet van die brandoffer: Dit, die brandoffer, moet op sy vuurherd op die altaar die hele nag lank tot die môre toe bly, en die altaarvuur moet daardeur aan die brand gehou word.

10. En die priester moet sy linnekleed aantrek, en die linnebroek moet hy oor sy vlees aantrek; dan moet hy die as wegneem waartoe die vuur die brandoffer op die altaar verteer het, en dit langs die altaar uitgooi.

11. Daarna moet hy sy klere uittrek en ander klere aantrek, en die as buitekant die laer op ’n rein plek uitbring.

12. En die vuur op die altaar moet daardeur aan die brand gehou word, dit mag nie doodgaan nie; maar die priester moet elke môre daaroor hout aan die brand steek en die brandoffer daaroor reglê en die stukke vet van die dankoffers daaroor aan die brand steek.

Lees volledige hoofstuk Levítikus 6