Ou Testament

Nuwe Testament

Levítikus 4:2-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Spreek met die kinders van Israel en sê: As iemand in swakheid sondig teen een van alle gebooie van die Here en een van die dinge wat nie gedoen mag word nie, tog doen —

3. as die gesalfde priester sondig, sodat die volk daardeur skuldig word, moet hy vir die sonde wat hy gedoen het, ’n jong bul sonder gebrek aan die Here as sondoffer bring;

4. en hy moet die bul bring na die ingang van die tent van samekoms, voor die aangesig van die Here, en moet sy hand op die kop van die bul lê en die bul slag voor die aangesig van die Here.

5. Dan moet die gesalfde priester van die bloed van die bul neem en dit na die tent van samekoms bring,

6. en die priester moet sy vinger in die bloed steek en van die bloed sewe maal sprinkel voor die aangesig van die Here, voor die voorhangsel van die heiligdom.

7. Ook moet die priester van die bloed stryk aan die horings van die altaar van die reukwerk van speserye, wat in die tent van samekoms is, voor die aangesig van die Here; en hy moet al die orige bloed van die bul uitgiet aan die onderkant van die brandofferaltaar wat by die ingang van die tent van samekoms is;

8. en al die vet van die sondofferbul moet hy van hom aflig, die vet wat oor die binnegoed lê, en al die vet wat aan die binnegoed is,

9. en die twee niere en die vet daarop wat aan die lendene is, en die lap aan die lewer — by die niere moet hy dit wegneem —

10. soos dit van die dankofferbul afgelig word — en die priester moet dit aan die brand steek op die brandofferaltaar.

11. Maar die vel van die bul en al sy vleis met die kop en die pote en die binnegoed en die mis —

12. die hele bul moet hy buitekant die laer uitbring op ’n rein plek waar die as uitgegooi word, en hy moet hom op hout met vuur verbrand; op die plek waar die as uitgegooi word, moet hy verbrand word.

13. En as die hele vergadering van Israel hulle misgaan sonder dat die vergadering hom daarvan bewus is; en hulle enigiets doen wat die Here verbied het, en skuldig word;

14. en die sonde wat hulle so gedoen het, bekend word, moet die vergadering ’n jong bul as sondoffer laat aankom en hom voor die tent van samekoms bring,

15. en die oudstes van die vergadering moet hulle hande op die kop van die bul lê voor die aangesig van die Here, en die bul moet voor die aangesig van die Here geslag word.

Lees volledige hoofstuk Levítikus 4