Ou Testament

Nuwe Testament

Levítikus 25:46-55 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

46. En julle mag dié aan julle kinders ná julle nalaat as ’n erflike besitting; vir ewig mag julle hulle laat dien. Maar oor julle broers, die kinders van Israel, die een oor die ander — oor hom mag jy nie met hardheid heers nie.

47. En as ’n vreemdeling of bywoner by jou vermoënd word, en jou broer by hom verarm en hy homself aan ’n vreemdeling of bywoner by jou verkoop, of aan ’n familielid uit die geslag van ’n vreemdeling,

48. dan moet daar vir hom, nadat hy hom verkoop het, reg van lossing wees; een van sy broers kan hom los,

49. of sy oom of sy oom se seun kan hom los, of een van sy naaste bloedverwante uit sy geslag kan hom los, of as hy dit kan bekostig, kan hy homself los.

50. En hy moet met sy koper reken van die jaar af dat hy hom aan hom verkoop het, tot die jubeljaar toe. En die prys waarvoor hy hom verkoop het, moet wees volgens die aantal jare; soos ’n dagloner sal hy dan dié tyd by hom gewees het.

51. As daar nog baie jare is, moet hy volgens hulle sy losprys uit die geld waarvoor hy gekoop is, teruggee;

52. en as daar maar min jare tot die jubeljaar toe oor is, moet hy daarmee rekening hou; volgens dié jare moet hy sy losprys teruggee.

53. Soos een wat van jaar tot jaar loonarbeider is, moet hy by hom wees; hy mag nie met hardheid oor hom voor jou oë heers nie.

54. En as hy nie op dié wyse gelos word nie, moet hy in die jubeljaar vrygelaat word, hy en sy kinders saam met hom.

55. Want die kinders van Israel is my knegte; my knegte is hulle wat Ek uit Egipteland uitgelei het. Ek is die Here julle God.

Lees volledige hoofstuk Levítikus 25