Ou Testament

Nuwe Testament

Levítikus 23:1-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. VERDER het die Here met Moses gespreek en gesê:

2. Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Die feestye van die Here wat julle moet uitroep as heilige samekomste — dit is my feestye.

3. Ses dae lank kan werk gedoen word, maar op die sewende dag is dit ’n dag van volkome rus, ’n heilige vierdag; géén werk mag julle doen nie — dit is ’n sabbat van die Here in al julle woonplekke.

4. Dit is die feestye van die Here, die heilige vierdae wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd.

5. In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die Here;

6. en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die Here; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet.

7. Op die eerste dag moet daar vir julle ’n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.

8. Maar julle moet sewe dae lank aan die Here ’n vuuroffer bring. Op die sewende dag moet daar ’n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.

9. En die Here het met Moses gespreek en gesê:

10. Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring.

11. En hy moet die gerf voor die aangesig van die Here beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg.

12. Julle moet ook op die dag as julle die gerf beweeg, ’n jaaroud lam sonder gebrek as brandoffer aan die Here berei,

13. en die spysoffer wat daarby behoort, twee-tiendes van ’n efa fynmeel met olie gemeng as vuuroffer aan die Here, ’n lieflike geur, en daarby die drankoffer van wyn, ’n kwart hin.

14. En julle mag geen brood of gebraaide koring of vars graan eet tot daardie selfde dag toe nie, totdat julle die offer van julle God bring. Dit is ’n ewige insetting vir julle geslagte in al julle woonplekke.

Lees volledige hoofstuk Levítikus 23