Ou Testament

Nuwe Testament

Levítikus 22:11-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Maar as ’n priester iemand met sy geld koop, mag dié daarvan eet, en die wat in sy huis gebore is; húlle mag van sy voedsel eet.

12. Maar as die dogter van ’n priester aan ’n vreemde behoort, mag sy van die offergawe van die heilige gawes nie eet nie.

13. Maar as die dogter van ’n priester weduwee is of verstoot word en sy kinderloos is en in die huis van haar vader terugkom soos in haar jeug, dan mag sy van die voedsel van haar vader eet; maar geen onbevoegde mag daarvan eet nie.

14. En as iemand by vergissing iets eet wat heilig is, moet hy die vyfde deel daarvan byvoeg, en só wat heilig is, aan die priester teruggee.

15. So moet hulle dan die heilige gawes wat die kinders van Israel aan die Here afgee, nie ontheilig

16. en op húlle geen strafbare skuld laai deurdat húlle die heilige gawes sou eet nie; want Ek is die Here wat hulle heilig.

17. VERDER het die Here met Moses gespreek en gesê:

18. Spreek met Aäron en sy seuns en met al die kinders van Israel en sê vir hulle: Enigeen uit die huis van Israel of uit die vreemdelinge in Israel wat sy offer bring — volgens al hulle geloftes en al hulle vrywillige offers wat hulle aan die Here as brandoffer bring —

19. moet dit so bring, dat julle welgevalle vind: ’n dier van die manlike geslag sonder gebrek, van die beeste, die lammers of die bokke.

20. Julle mag nie iets bring waar ’n liggaamsgebrek aan is nie, want dit sal julle nie ten goede kom nie.

21. En as iemand ’n dankoffer aan die Here offer om ’n besondere gelofte te volbring of as vrywillige offer, van die beeste of die kleinvee, dan moet dit sonder gebrek wees, sodat dit welgevallig kan wees; geen liggaamsgebrek mag daaraan wees nie.

Lees volledige hoofstuk Levítikus 22