Ou Testament

Nuwe Testament

Levítikus 14:34-47 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

34. As julle in die land Kanaän inkom wat Ek julle as besitting gee, en Ek die plaag van melaatsheid in ’n huis van die land van julle besitting laat kom,

35. moet hy aan wie die huis behoort, kom en aan die priester te kenne gee en sê: Dit lyk my of daar ’n plaag in die huis is.

36. En die priester moet bevel gee dat hulle die huis ontruim, voordat die priester die plaag kom bekyk, sodat alles wat in die huis is, nie onrein word nie; en daarna moet die priester kom om die huis te bekyk.

37. As hy die plaag bekyk en sien dat die plaag aan die mure van die huis is soos liggroen of rooierige kuiltjies, en hulle dieper lyk as die muur,

38. dan moet die priester uit die huis uitgaan na die deur van die huis en die huis sewe dae lank toesluit.

39. Op die sewende dag moet die priester dan terugkom; sien hy dan dat die plaag hom uitgebrei het aan die mure van die huis,

40. dan moet die priester bevel gee dat hulle die klippe uitbreek waaraan die plaag is, en dit buitekant die stad op ’n onrein plek gooi.

41. En die huis moet hulle binnekant rondom afkrap en die klei wat hulle afgekrap het, buitekant die stad op ’n onrein plek weggooi.

42. Dan moet hulle ander klippe neem en in die plek van daardie klippe insit, en hulle moet ander klei neem en die huis pleister.

43. Maar as die plaag weer in die huis uitbreek nadat hulle die klippe uitgebreek en die huis afgekrap het en dit gepleister is,

44. moet die priester kom; en as hy sien dat die plaag in die huis versprei het, dan is dit ’n kwaadaardige melaatsheid in die huis; dit is onrein.

45. Daarom moet hulle die huis afbreek: sy klippe en sy hout en al die klei van die huis, en hulle moet dit buitekant die stad op ’n onrein plek uitbring.

46. En hy wat in die huis kom, al die tyd dat hulle dit toegesluit hou, sal tot die aand toe onrein wees.

47. En hy wat in die huis slaap, moet sy klere was; en hy wat in die huis eet, moet sy klere was.

Lees volledige hoofstuk Levítikus 14