Ou Testament

Nuwe Testament

Klaagliedere 2:1-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. Alef. AG, hoe het die Here in sy toorn die dogter van Sion met wolke oordek! Hy het die sieraad van Israel uit die hemel op die aarde neergewerp en nie gedink aan die voetbank van sy voete op die dag van sy toorn nie.

2. Bet. Die Here het al die woonplekke van Jakob sonder verskoning verslind; in sy grimmigheid het Hy die vestings van die dogter van Juda verwoes, op die grond gewerp, die koninkryk en sy vorste ontheilig.

3. Gimel. Hy het in gloeiende toorn elke horing van Israel afgekap; Hy het sy regterhand teruggetrek voor die vyand, en in Jakob het Hy gebrand soos ’n vuurvlam wat rondom verteer.

4. Dalet. Hy het sy boog gespan soos ’n vyand, Hom opgestel met sy regterhand soos ’n teëstander en gedood alles wat ’n lus was vir die oog in die tent van die dogter van Sion; Hy het sy grimmigheid uitgegiet soos vuur.

5. He. Die Here het soos ’n vyand geword, Hy het Israel verslind, al sy paleise verslind, sy vestings verwoes en geklaag en geklag by die dogter van Juda vermenigvuldig.

6. Wau. En Hy het sy eie omheining soos ’n tuin verniel, sy eie feesplek verwoes; die Here het in Sion feestyd en sabbat laat vergeet, en in sy grimmige toorn koning en priester verwerp.

7. Sajin. Die Here het sy altaar verwerp, sy heiligdom ontheilig, die mure van haar paleise in die hand van die vyand oorgelewer; hulle het gedruis gemaak in die huis van die Here soos op ’n feesdag.

8. Get. Die Here het Hom voorgeneem om die muur van die dogter van Sion te verwoes; Hy het die meetsnoer gespan, sy hand nie teruggetrek van vernietiging nie; ja, Hy het voorskans en muur laat treur, saam sak hulle inmekaar.

9. Tet. Haar poorte het in die grond gesink, Hy het haar grendels te gronde gerig en verbreek; haar koning en haar vorste is onder die heidene; daar is geen onderwysing nie, en haar profete ontvang geen gesig van die Here nie.

10. Jod. Die oudstes van die dogter van Sion sit en swyg op die grond, hulle het stof op hul hoof gegooi, rouklere aangegord; die jonkvroue van Jerusalem het hulle hoof na die aarde gebuig.

11. Kaf. My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk, omdat kind en suigling op die pleine van die stad versmag,

12. Lamed. wat aan hulle moeders sê: Waar is koring en wyn? terwyl hulle versmag soos gewondes op die pleine van die stad, terwyl hulle lewe uitgestort word aan die bors van hul moeders.

13. Mem. Watter getuienis kan ek vir jou aflê, waarmee kan ek jou vergelyk, dogter van Jerusalem? Waarmee sal ek jou gelykstel, dat ek jou kan troos, jonkvrou, dogter van Sion? Want jou verbrokenheid is so groot soos die see — wie kan jou gesond maak?

14. Noen. Jou profete het vir jou bedrieglike en ongerymde dinge gesien en jou ongeregtigheid nie geopenbaar om jou lot te verander nie, maar hulle het vir jou godsprake gesien tot bedrog en verstoting.

Lees volledige hoofstuk Klaagliedere 2