Ou Testament

Nuwe Testament

Klaagliedere 1:1-6 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. Alef. AG, hoe verlate sit die stad wat vol mense was! Sy het soos ’n weduwee geword, sy wat magtig was onder die nasies; die vorstin onder die provinsies het dienspligtig geword.

2. Bet. Bitterlik ween sy snags — haar trane oor haar wange! Sy het geen trooster onder al haar liefhebbers nie; al haar vriende het troueloos teen haar gehandel, haar vyande geword.

3. Gimel. Juda is ontvolk deur ellende en deur sware diensbaarheid; hy sit onder die nasies, sonder om ’n rusplek te vind; al sy vervolgers het hom ingehaal tussen die engtes in.

4. Dalet. Die weë na Sion treur, omdat daar geen feesgangers is nie; al haar poorte lê woes, haar priesters sug, haar jonkvroue is bedroef, en sy self het dit bitter.

5. He. Haar teëstanders het die oorhand gekry, haar vyande lewe rustig; want die Here het haar droefheid aangedoen vanweë die menigte van haar oortredinge; haar kinders het in gevangenskap gegaan voor die teëstander uit.

6. Wau. En van die dogter van Sion het gewyk al haar heerlikheid; haar vorste het geword soos takbokke wat geen weiveld vind nie en kragteloos heengegaan het voor die vervolger uit.

Lees volledige hoofstuk Klaagliedere 1