Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 2:3-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. stuur die koning van Jérigo na Ragab om te sê: Lewer die manne uit wat na jou gekom het, wat in jou huis ingegaan het; want hulle het gekom om die hele land te verken.

4. Maar die vrou het die twee manne geneem en hulle weggesteek; en sy het gesê: Seker, die manne het na my gekom; maar ek het nie geweet waar hulle vandaan was nie.

5. En toe die poort met donker gesluit moes word, het die manne uitgegaan; ek weet nie waar die manne heengegaan het nie; jaag hulle gou agterna, want julle sal hulle inhaal.

6. Maar sy het hulle op die dak laat klim en hulle weggesteek onder die vlasstoppels wat op haar dak oopgegooi was.

7. Die manne het hulle toe agternagejaag in die rigting van die Jordaan, na die driwwe; en die poort het hulle gesluit nadat hulle vervolgers uitgegaan het.

8. En voordat hulle gaan slaap het, het sy op die dak geklim na hulle toe

9. en aan die manne gesê: Ek weet dat die Here die land aan julle gegee het en dat die skrik vir julle op ons geval het en dat al die inwoners van die land vir julle bewe;

10. want ons het gehoor dat die Here die water van die Skelfsee voor julle by jul uittog uit Egipte laat opdroog het en wat julle die twee konings van die Amoriete, Sihon en Og, oorkant die Jordaan aangedoen het, dat julle hulle met die banvloek getref het.

11. Toe ons dit hoor, het ons hart gesmelt, sodat daar by niemand enige moed meer oorgebly het teenoor julle nie; want die Here julle God, Hy is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder.

12. Sweer dan nou tog vir my by die Here dat, terwyl ek aan julle ’n guns bewys het, julle ook aan my familie ’n guns sal bewys; en gee my ’n betroubare teken

13. dat julle die lewe van my vader en my moeder en my broers en my susters en almal wat aan hulle behoort, sal spaar en ons siele sal red van die dood.

Lees volledige hoofstuk Josua 2