Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 17:7-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. En die lyn van Manasse was: van Aser af na Mígmetat, teenoor Sigem; dan loop die lyn regs na die inwoners van En-Tappúag —

8. die landstreek van Tappúag het behoort aan Manasse, maar Tappúag, aan die grens van Manasse, aan die kinders van Efraim —;

9. verder loop die lyn af na die spruit Kana, suid van die spruit: daardie stede, onder die stede van Manasse, behoort aan Efraim; en die lyn van Manasse is noord van die spruit en loop dood by die see.

10. Suid behoort dit aan Efraim, maar noord aan Manasse; en die see is sy lyn; dan raak hulle in die noorde aan Aser en in die ooste aan Íssaskar.

11. En aan Manasse behoort in Íssaskar en Aser: Bet-Sean met sy onderhorige plekke en Jíbleam met sy onderhorige plekke en die inwoners van Dor met sy onderhorige plekke en die inwoners van En-Dor met sy onderhorige plekke en die inwoners van Táänag met sy onderhorige plekke en die inwoners van Megíddo met sy onderhorige plekke, die drie hoogtes.

12. Maar die kinders van Manasse kon hierdie stede nie in besit neem nie, en die Kanaäniete het verkies om in dié land te bly woon.

13. En toe die kinders van Israel sterker geword het, het hulle die Kanaäniete dienspligtig gemaak, maar hulle nie geheel en al verdrywe nie.

14. Toe het die kinders van Josef met Josua gespreek en gesê: Waarom het u my as erfdeel net een lot en een aandeel gegee terwyl ek tog ’n groot volk is, omdat die Here my tot hiertoe geseën het?

15. En Josua het vir hulle gesê: As jy ’n groot volk is, trek dan op na die boswêreld en kap vir jou daar ’n plek skoon in die land van die Feresiete en Refaïete, ingeval die gebergte van Efraim vir jou te nou is.

16. Maar die kinders van Josef het gesê: Die gebergte sal nie vir ons genoeg wees nie, en al die Kanaäniete wat in die lae streke woon, het ysterwaens, dié van Bet-Sean met sy onderhorige plekke sowel as dié van die laagte van Jísreël.

17. Toe het Josua met die huis van Josef, met Efraim en Manasse gespreek en gesê: Jy is ’n groot volk en jy het groot krag: jy sal nie net een lot hê nie;

18. want die gebergte sal joue wees — ’n boswêreld is dit naamlik, en jy moet dit skoonkap; dan sal die uitlopers daarvan joue wees; want jy moet die Kanaäniet verdrywe, al het hy ysterwaens, al is hy sterk.

Lees volledige hoofstuk Josua 17