Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 13:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN toe Josua oud en ver op sy dae was, het die Here vir hom gesê: Jy is oud en ver op jou dae, en daar het nog ’n baie groot stuk land oorgebly om in besit te neem.

2. Dit is die land wat oorgebly het: Al die landstreke van die Filistyne en al die Gesuriete,

3. van die Sihor aan die kant van Egipte af tot by die grens van Ekron na die noorde, wat as Kanaänities gereken word; die vyf vorste van die Filistyne: dié van Gasa en dié van Asdod, dié van Áskelon, dié van Gat en dié van Ekron, en die Awiete

4. in die suide; die hele land van die Kanaäniete en Méara wat aan die Sidoniërs behoort, tot by Afek, tot by die grens van die Amoriete;

5. en die land van die Gibliete en die hele Líbanon aan die oostekant, van Baäl-Gad af, onderaan die berg Hermon, tot by die ingang na Hamat.

6. Al die bewoners van die gebergte, van die Líbanon af tot by Mísrefot-Maim, al die Sidoniërs — Ek self sal hulle voor die kinders van Israel uit verdrywe; laat dit net as erfdeel aan Israel val soos Ek jou beveel het.

7. Verdeel dan nou hierdie land as erfdeel onder die nege stamme en die halwe stam van Manasse.

8. Saam met hom het die Rubeniete en die Gadiete hulle erfdeel ontvang wat Moses oorkant die Jordaan na die ooste toe aan hulle gegee het, soos Moses, die kneg van die Here, dit aan hulle gegee het:

9. van Ároër af wat aan die kant van die Arnonrivier lê, die stad in die middel van die dal, en die hele gelykveld van Medéba af tot by Dibon;

10. en al die stede van Sihon, die koning van die Amoriete wat in Hesbon geregeer het, tot by die grens van die kinders van Ammon;

11. en Gílead en die grondgebied van die Gesuriete en Maägatiete en die hele berg Hermon en die hele Basan tot by Salka;

Lees volledige hoofstuk Josua 13