Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 10:34-43 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

34. Daarop trek Josua oor en die hele Israel met hom saam van Lagis na Eglon om dit te beleër en daarteen te veg.

35. En hulle het dit ingeneem op dieselfde dag en dit verslaan met die skerpte van die swaard; en al die siele wat daarin was, het hy op dieselfde dag met die banvloek getref net soos hy met Lagis gedoen het.

36. Toe trek Josua op en die hele Israel met hom saam van Eglon na Hebron om daarteen te veg.

37. En hulle het dit ingeneem en dit met sy koning en al sy stede en al die siele wat daarin was, met die skerpte van die swaard verslaan sonder om iemand te laat oorbly wat vrygeraak het, net soos hy met Eglon gedoen het: hy het dit met al die siele wat daarin was, met die banvloek getref.

38. Daarop draai Josua weg en die hele Israel met hom saam na Debir om daarteen te veg.

39. En hy het dit geneem met sy koning en al sy stede; en hulle het hulle met die skerpte van die swaard verslaan en al die siele wat daarin was, met die banvloek getref sonder om iemand te laat oorbly wat vrygeraak het; soos hy met Hebron gedoen het, so het hy met Debir en sy koning gedoen, en soos hy met Libna en sy koning gedoen het.

40. So het Josua dan die hele land verslaan, die Gebergte en die Suidland en die Laeveld en die Hange met al hulle konings sonder om iemand te laat oorbly wat vrygeraak het; en alles wat asemhaal, het hy met die banvloek getref, soos die Here, die God van Israel, beveel het.

41. En Josua het hulle verslaan van Kades-Barnéa af tot by Gasa, en die hele land Gosen tot by Gíbeon.

42. En al hierdie konings met hulle land het Josua in een slag geneem, omdat die Here, die God van Israel, vir Israel gestry het.

43. Daarna het Josua en die hele Israel met hom saam na die laer van Gilgal teruggegaan.

Lees volledige hoofstuk Josua 10