hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Jona 2 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

Jona in die vis; sy gebed en verlossing.

1. EN Jona het tot die Here sy God gebid uit die ingewande van die vis

2. en gesê: Uit my benoudheid het ek die Here aangeroep, en Hy het my verhoor; uit die binneste van die doderyk het ek geroep om hulp — U het my stem gehoor.

3. U tog het my in die diepte gewerp, in die hart van die see, sodat ’n stroom my omring het; al u bare en u golwe het oor my heengegaan.

4. Toe het ek gesê: Ek is weggestoot, weg van u oë; tog sal ek weer u heilige tempel aanskou.

5. Waters het my omring tot aan die siel toe, die vloed was rondom my; seegras was om my hoof gedraai.

6. Ek het afgedaal tot by die grondslae van die berge, die grendels van die aarde het my vir altyd ingesluit; maar U het my lewe uit die kuil opgetrek, Here my God!

7. Toe my siel in my versmag het, het ek aan die Here gedink; en my gebed het tot by U gekom in u heilige tempel.

8. Die wat nietige afgode vereer, verlaat die Een wat vir hulle goedertieren is.

9. Ek daarenteen sal aan U offer met ’n stem van lof; wat ek beloof het, sal ek betaal. Die heil behoort aan die Here.

10. Daarop het die Here die vis beveel om Jona op die droë grond uit te spuug.