Ou Testament

Nuwe Testament

Joël 3:1-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. WANT kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander,

2. sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ’n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het.

3. En oor my volk het hulle die lot gewerp en ’n jong seun weggegee vir ’n hoer en ’n meisie verkoop vir wyn en dit gedrink.

4. En ook, wat het julle met My te doen, o Tirus en Sidon en al die landstreke van Filistéa? Wil julle My iets vergelde, of wil julle My iets aandoen? Gou, ylings sal Ek julle dade op julle hoof laat neerkom.

5. Want julle het my silwer en my goud geneem en my kosbare skatte na julle tempels gebring.

6. Verder het julle die kinders van Juda en die kinders van Jerusalem aan die kinders van Jawan verkoop, om hulle ver van hul grondgebied te verwyder.

7. Kyk, Ek sal hulle laat opstaan uit die plek waarheen julle hulle verkoop het, en julle dade op julle hoof laat neerkom.

8. En Ek sal julle seuns en julle dogters aan die kinders van Juda verkoop, en dié sal hulle verkoop aan die Sabeërs, aan ’n verafgeleë volk; want die Here het dit gespreek.

9. Roep dit uit onder die nasies, heilig ’n oorlog! Wek die helde op, laat al die krygsmanne nader kom, opruk!

Lees volledige hoofstuk Joël 3