Ou Testament

Nuwe Testament

Joël 2:14-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy ’n seën sal agterlaat — ’n spysoffer en ’n drankoffer aan die Here julle God.

15. Blaas die basuin op Sion, heilig ’n vasdag, roep ’n vergadering saam!

16. Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders en die suiglinge! Laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid uit haar slaapvertrek.

17. Laat die priesters, die dienaars van die Here, tussen die voorportaal en die altaar ween en sê: o Here, spaar u volk, en gee u erfdeel nie oor aan smaadheid, dat die nasies met hulle spot nie; waarom sou hulle onder die volke sê: Waar is hulle God?

18. TOE het die Here geywer vir sy land en sy volk verskoon.

19. En die Here het geantwoord en aan sy volk gesê: Kyk, Ek stuur vir julle koring en mos en olie, sodat julle daarvan versadig word, en Ek maak julle nie meer tot ’n voorwerp van smaad onder die nasies nie.

20. Ja, Ek sal die sprinkaanswerm, uit die noorde afkomstig, van julle af wegjaag en dit wegdrywe na ’n dor en woeste land; sy voorhoede na die Oostelike See en sy agterhoede na die Westelike See toe. En sy stank sal opstyg, en ’n slegte reuk uit hom opgaan; want hy het alte groot dinge gedoen.

21. Wees nie bevrees nie, o aarde, juig en wees bly, want die Here doen groot dinge!

22. Wees nie bevrees nie, diere van die veld, want die weivelde van die woestyn spruit uit, want die bome dra hulle vrugte, die vyeboom en die wingerdstok lewer hulle drag!

23. En julle, kinders van Sion, juig en wees bly in die Here julle God, want Hy gee julle die leraar tot geregtigheid en laat op julle neerdaal die reën, die vroeë reëns en die laat reëns, soos voorheen.

24. Dan sal die dorsvloere vol koring wees en die parskuipe van mos en olie oorloop.

25. En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het — my groot leërmag wat Ek teen julle gestuur het.

26. Dan sal julle oorvloedig eet en versadig wees en die Naam van die Here julle God prys wat wonderbaar met julle gehandel het, en my volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie.

Lees volledige hoofstuk Joël 2