Ou Testament

Nuwe Testament

Job 38:19-36 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. Waar is tog die weg na die woning van die lig? En die duisternis — waar is tog sy plek,

20. sodat jy dit kan bring, elkeen na sy gebied en kan verstaan die paaie na hulle huis?

21. Jy weet dit seker wel, want jy is toe gebore! En die getal van jou dae is groot!

22. Het jy gekom by die skatkamers van die sneeu? En het jy die skatkamers van die hael gesien,

23. wat Ek opgespaar het vir die tyd van benoudheid, vir die dag van stryd en oorlog?

24. Waar is tog die weg na die plek waar die lig gedeel word, die oostewind hom uitsprei oor die aarde?

25. Wie het ’n kanaal gesplyt vir die stortvloed en ’n pad vir die onweerstraal;

26. om te laat reën op ’n land waar geen mens is nie, op ’n woestyn waar niemand woon nie;

27. om woestheid en verwoesting te versadig en op die groeiplek jong gras te laat uitspruit?

28. Het die reën ’n vader? Of wie verwek die doudruppels?

29. Uit wie se moederskoot kom die ys te voorskyn? En die ryp van die hemel — wie baar dit?

30. Die waters word hard soos ’n klip, en die oppervlakte van die watervloed sluit aanmekaar.

31. Kan jy die bande van die Sewe-ster knoop? Of die toue van die Oríon losmaak?

32. Kan jy die Diereriem uitbring op sy tyd? En die Beer met sy kleintjies lei?

33. Ken jy die wette van die hemel? Of kan jy sy heerskappy oor die aarde bestel?

34. Kan jy jou stem na die wolke verhef, sodat ’n oorvloed van water jou oordek?

35. Kan jy die bliksems uitstuur, sodat hulle heengaan en vir jou sê: Hier is ons!

36. Wie het wysheid neergelê in die wolke? Of wie het verstand gegee aan die wolkgevaarte?

Lees volledige hoofstuk Job 38