Ou Testament

Nuwe Testament

Job 38:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DAARNA het die Here Job uit ’n storm geantwoord en gesê:

2. Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder kennis?

3. Gord dan soos ’n man jou heupe — dan sal Ek jou ondervra, en onderrig jy My.

4. Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het.

5. Wie het sy afmetinge bepaal? — jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan?

6. Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê?

7. Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het?

8. En wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek, uit die moederskoot voortgekom het?

9. Toe Ek die wolk tot sy kleding gemaak het en die donkerheid tot sy windsel.

10. Toe Ek my grens daarvoor uitgebreek en grendel en deure gemaak het;

11. en gesê het: Tot hiertoe mag jy kom en nie verder nie; en hier word ’n grens gestel vir jou trotse golwe.

12. Het jy, solank as jy lewe, die môre ontbied, die dageraad sy plek aangewys,

13. om die some van die aarde aan te gryp, sodat die goddelose daarvan afgeskud word?

14. Dit neem nuwe vorme aan soos die klei onder ’n seël; en die dinge kry gestalte soos ’n kleed.

15. En aan die goddelose word hulle lig ontneem, en die hoë arm word verbreek.

Lees volledige hoofstuk Job 38