Ou Testament

Nuwe Testament

Job 33:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. MAAR hoor tog, o Job, na my rede, en luister na al my woorde.

2. Kyk, ek het my mond oopgemaak; my tong spreek in my verhemelte.

3. My woorde kom uit die opregtheid van my hart, en wat my lippe weet, spreek hulle suiwer uit.

4. Die Gees van God het my geskape, en die asem van die Almagtige maak my lewend.

5. As u kan, antwoord my; maak klaar teen my; staan gereed!

6. Kyk, teenoor God staan ek in dieselfde verhouding as u: van klei is ek ook afgeknyp.

7. Kyk, vrees vir my hoef u nie te beangstig nie, en my las sal op u nie swaar wees nie.

8. SEKERLIK, u het voor my ore gesê, ek het die geluid van die woorde gehoor:

9. Rein is ek, sonder oortreding; suiwer is ek, en daar is geen skuld by my nie.

10. Kyk, Hy soek aanleidinge vir vyandskap teen my; Hy hou my vir ’n vyand van Hom.

11. Hy sit my voete in die blok; Hy bewaak al my paaie.

12. Kyk, daarin het u nie reg nie (antwoord ek u), want groter is God as ’n mens.

13. Waarom het u teen Hom getwis, dat Hy op al die woorde van ’n mens nie antwoord nie?

Lees volledige hoofstuk Job 33