Ou Testament

Nuwe Testament

Job 31:4-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Sien Hý nie my weë nie, en tel Hy nie al my voetstappe nie?

5. As ek met leuens omgegaan het en my voet gehardloop het na bedrog:

6. laat Hy my dan weeg op ’n regte weegskaal, sodat God my onskuld kan weet!

7. As my gang afgewyk het van die weg en my hart agter my oë aangegaan het en aan my hande ’n vlek gekleef het —

8. laat my dan saai en iemand anders eet, en laat my uitspruitsels ontwortel word.

9. As my hart verlok was oor ’n vrou, en ek geloer het by die deur van my naaste —

10. laat dan my vrou vir iemand anders maal en ander hulle oor haar buig.

11. Want dit is ’n skandelike daad, en dit is ’n strafbare misdaad.

12. Ja, dit is ’n vuur wat tot by die plek van vertering toe vreet en al my opbrings sou ontwortel.

13. As ek gering geag het die reg van my slaaf of van my slavin toe hulle ’n geskil met my gehad het —

14. wat sou ek dan doen as God opstaan? En wat Hom antwoord as Hy ondersoek doen?

15. Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, hom nie gemaak nie? En het Een ons nie in die geboorte toeberei nie?

16. As ek die armes ’n versoek geweier het en die oë van die weduwee laat versmag het

17. en my stukkie brood alleen geëet het sonder om die wees daarvan te laat saameet;

18. (veelmeer het hy van my jeug af by my grootgeword soos by ’n vader, en van my moeder se skoot af het ek haar gelei!)

19. as ek iemand sien omkom het sonder klere en dat daar geen bedekking vir die behoeftige was nie;

Lees volledige hoofstuk Job 31