Ou Testament

Nuwe Testament

Job 19:6-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. weet dan dat Gód my onregverdig behandel het en met sy net my rondom ingesluit het.

7. As ek roep: Geweld! dan word ek nie verhoor nie; ek roep om hulp, maar daar is geen reg nie.

8. Hy het my weg toegemuur, sodat ek nie verby kan nie; en oor my paaie het Hy duisternis gesprei.

9. My eer het Hy van my afgetrek en die kroon van my hoof weggeneem.

10. Hy werp my aan alle kante omver, en — daar gaan ek! En Hy het my verwagting uitgeruk soos ’n boom.

11. Ook het Hy sy toorn teen my laat ontvlam en my beskou as een van sy vyande.

12. As een man kom sy skare aan en baan ’n pad vir hulle teen my, en hulle slaan die laer op rondom my tent.

13. MY broers het Hy ver van my verwyder, en my bekendes het vir my heeltemal vreemd geword.

14. My nabestaandes ontbreek, en my vertroudes het my vergeet.

15. My bywoners en my slavinne beskou my as ’n vreemde; ’n onbekende het ek geword in hulle oë.

16. Ek roep my slaaf, maar hy antwoord nie; met my mond moet ek hom smeek.

17. My asem is vir my vrou hinderlik, en my slegte reuk vir die kinders van my moeder se skoot.

18. Selfs jong seuns minag my; wil ek opstaan, dan spot hulle met my.

Lees volledige hoofstuk Job 19