Ou Testament

Nuwe Testament

Job 15:13-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. dat jy jou toorn rig teen God en sulke woorde uit jou mond laat uitgaan?

14. Wat is die mens, dat hy rein sou wees? En hy wat uit ’n vrou gebore is, dat hy regverdig sou wees?

15. Kyk, in sy heiliges stel Hy geen vertroue nie; ja, die hemele is nie rein in sy oë nie;

16. hoeveel minder die afskuwelike en ontaarde, die mens wat onreg drink soos water!

17. Ek wil jou inlig, luister na my; en wat ek gesien het, wil ek vertel;

18. wat die wyse manne verkondig sonder om iets te verberg, van hulle vaders afoorgelewer;

19. aan hulle alleen was die land gegee, en geen vreemdeling het nog onder hulle deurgetrek nie.

20. AL sy dae leef die goddelose in angs, ja, al die jare deur wat vir die tiran bepaal is.

21. Skrikgeluide is in sy ore; in volle vrede oorval die verwoester hom.

22. Hy glo nie dat hy uit die duisternis sal terugkeer nie; en hy is bestemd vir die swaard.

23. Hy dwaal rond en soek brood. Waar is dit? Hy weet dat gereed is, ophande, die dag van duisternis.

24. Benoudheid en angs verskrik hom; dit oorweldig hom soos ’n koning wat gereed staan vir die aanval,

25. omdat hy sy hand uitgesteek het teen God en die Almagtige getrotseer het

26. (hy het Hom stormgeloop met uitgerekte nek, met die dik bulte van sy skilde);

27. omdat hy sy gesig met sy vet oordek en ’n vetlaag op sy heupe gevorm het,

28. en verdelgde stede bewoon het, huise wat nie bewoon moes word nie, wat bestem was om puinhope te bly.

29. HY bly nie ryk en sy vermoë hou nie stand nie, en hulle besitting buig nie soos koringare na die aarde toe nie.

30. Hy ontvlug nie die duisternis nie, die vlam laat sy spruit verdroog, en hy vergaan deur die geblaas van die mond van God.

31. Laat hom nie vertrou op nietigheid nie — hy kom bedroë uit! — want nietigheid sal sy vergelding wees.

Lees volledige hoofstuk Job 15