Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 9:7-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. DIE Here stuur ’n woord in Jakob, en dit val in Israel;

8. en die hele volk sal dit gewaarword, Efraim en die inwoners van Samaría, wat in trotsheid en grootsheid van hart sê:

9. Die bakstene het geval, maar met gekapte klip sal ons bou; die wildevyebome is afgekap, maar ons sal seders in hulle plek neem!

10. Maar die Here gee aan die teëstanders van Resin die oorhand oor hulle, en hulle vyande sal Hy ophits:

11. die Arameërs van voor en die Filistyne van agter, dat hulle Israel met volle mond kan opeet. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.

12. Maar die volk bekeer hulle nie tot Hom wat hulle slaan nie, en hulle soek nie die Here van die leërskare nie.

13. Daarom sny die Here van Israel af kop en stert, palmtak en biesie, op een dag.

14. Die oudste en aansienlike, dié is die kop, en die profeet wat leuens profeteer, dié is die stert;

15. en die leiers van hierdie volk het verleiers geword, en dié van hulle wat gelei word, is op ’n dwaalweg gebring.

16. Daarom sal die Here oor hulle jongmanne nie bly wees nie en Hom nie ontferm oor hulle wese en hulle weduwees nie; want hulle is almal roekelose mense en kwaaddoeners, en elke mond spreek goddeloosheid. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.

17. Want die goddeloosheid brand soos vuur; dit verteer dorings en distels en steek die digte takke van die bos aan die brand, sodat hulle in ’n rookpilaar opstyg.

18. Deur die grimmigheid van die Here van die leërskare staan die land in vlamme en het die volk geword soos ’n prooi van die vuur; die een spaar die ander nie.

19. En hulle byt na regs en het honger; hulle vreet na links en word nie versadig nie; hulle eet elkeen die vlees van sy eie arm:

20. Manasse vir Efraim, en Efraim vir Manasse, en hulle saam is teen Juda. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 9