Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 8:1-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. VERDER het die Here aan my gesê: Neem vir jou ’n groot tafel en skrywe daarop met ’n mensegriffel: Netnou is daar buit, gou is daar roof;

2. en Ek wil vir My vertroubare getuies neem: Uría, die priester, en Sagaría, die seun van Jeberégja.

3. En ek het na die profetes gekom, en sy het swanger geword en ’n seun gebaar; en die Here het vir my gesê: Noem hom: Netnou is daar buit, gou is daar roof.

4. Want voordat die seuntjie kan roep: Vader! of: Moeder! sal hulle die rykdom van Damaskus en die buit van Samaría voor die koning van Assur bring.

5. Verder het die Here nog met my gespreek en gesê:

6. Omdat hierdie volk die waters van Silóa verag wat saggies vloei, en daar vreugde is saam met Resin en die seun van Remália —

7. kyk, daarom sal die Here oor hulle laat opkom die sterk en magtige waters van die Eufraat — die koning van Assur en al sy heerlikheid — en hy sal bo al sy beddings styg en gaan oor al sy walle;

8. en hy sal in Juda indring, instroom en oorloop; tot die nek toe sal hy kom; en die uitbreidinge van sy vlerke sal u land in sy breedte vul, o Immánuel!

9. Maak geraas, o volke, en — stort inmekaar; en luister, alle ver plekke van die aarde! Gord julle en — stort inmekaar; gord julle en — stort inmekaar.

10. Neem ’n besluit, en dit sal verydel word; maak ’n afspraak, en dit sal nie tot stand kom nie; want God is met ons!

11. Want so het die Here met my gespreek toe sy hand my oorweldig het en Hy my vermaan het om nie te wandel op die weg van hierdie volk nie, met die woorde:

12. Julle mag nie alles ’n sameswering noem wat hierdie volk ’n sameswering noem nie, en julle mag nie bevrees wees vir wat hulle vrees, of verskrik wees nie.

13. Die Here van die leërskare — Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees!

14. Dan sal Hy vir julle ’n heiligdom wees, maar ’n klip waar ’n mens teen stamp en ’n rots waar ’n mens oor struikel, vir die twee huise van Israel, ’n vangnet en ’n strik vir die inwoners van Jerusalem.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 8