Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 65:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EK het My laat raadpleeg deur wie na My nie gevra het nie; Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; aan ’n nasie wat na my Naam nie genoem is nie, het Ek gesê: Hier is Ek, Hier is Ek!

2. Ek het my hande die hele dag uitgebrei na ’n opstandige volk wat wandel op ’n weg wat nie goed is nie, agter hulle eie gedagtes aan;

3. ’n volk wat My gedurigdeur in die aangesig terg, wat offer in tuine en rook laat opgaan op bakstene;

4. wat in die grafte sit en vernag in verborge plekke; wat varkvleis eet, en daar is brokke onrein vleis in hulle skottels;

5. wat sê: Bly daar! Kom nie naby my nie, want ek is heilig vir jou! Hierdie mense is ’n rook in my neus, ’n vuur wat die hele dag brand.

6. Kyk, dit staan voor my aangesig geskrywe; Ek sal nie swyg nie, tensy dat Ek dit vergeld het; ja, Ek sal dit vergelde in hulle boesem —

7. julle ongeregtighede en die ongeregtighede van julle vaders tesame, sê die Here; dat hulle offerrook laat opgaan het op die berge en My smaadheid aangedoen het op die heuwels — ja, Ek sal vóór alles hulle loon in hulle boesem toemeet.

8. So spreek die Here: Soos wanneer iemand mos vind in ’n tros druiwe en sê: Verniel dit nie, want daar is ’n seën in — sal Ek doen ter wille van my knegte, om nie alles te verniel nie.

9. En Ek sal ’n nakroos uit Jakob laat voortkom en uit Juda die erfbesitter van my berge; en my uitverkorenes sal dit erflik in besit neem en my knegte daar woon.

10. En Saron sal ’n weiveld vir kleinvee word, en die dal Agor ’n lêplek vir beeste, vir my volk wat My gesoek het.

11. Maar julle wat die Here verlaat, wat my heilige berg vergeet, wat ’n tafel dek vir die geluksgod en die mengsel inskink vir die godin van die noodlot —

12. Ek sal julle bestem vir die swaard, en julle almal sal buig om geslag te word, omdat Ek geroep maar julle nie geantwoord het nie, Ek gespreek maar julle nie geluister het nie, maar gedoen het wat verkeerd is in my oë en verkies het wat My nie behaag nie.

13. Daarom, so sê die Here Here: Kyk, my knegte sal eet, maar julle sal honger bly; kyk, my knegte sal drink, maar julle sal dors wees; kyk, my knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 65