Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 60:6-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. ’n Menigte kamele sal jou oordek, die jong kamele van Mídian en Efa; hulle sal almal uit Skeba kom; hulle bring goud en wierook en verkondig met blydskap die roemryke dade van die Here.

7. Al die kleinvee van Kedar sal vir jou versamel word, die ramme van Nébajot sal jou dien; hulle kom as welgevallige offer op my altaar, en Ek sal my heerlike huis heerlik maak.

8. Wie is dit wat daar aangevlieg kom soos ’n wolk en soos duiwe na hulle vensters?

9. Ja, op My wag die eilande, en die skepe van Tarsis kom vooraan, om jou seuns van ver te bring. Hul silwer en hul goud is by hulle, vir die Naam van die Here jou God en vir die Heilige van Israel, omdat Hy jou heerlik gemaak het.

10. En uitlanders sal jou mure bou, en hulle konings sal jou dien; want in my toorn het Ek jou geslaan, maar in my welbehae het Ek My oor jou ontferm.

11. En jou poorte sal altyddeur oopstaan; hulle sal bedags of snags nie gesluit word nie, om na jou toe aan te bring die rykdom van die nasies en hulle konings in triomftog.

12. Want die nasie en die koninkryk wat jou nie sal dien nie, sal ondergaan, en dié nasies sal seker verwoes word.

13. Die heerlikheid van die Líbanon sal na jou toe kom, die sipres, die plataan en die denneboom almal saam, om te versier die plek van my heiligdom; en Ek sal die plek van my voete heerlik maak.

14. En die seuns van hulle wat jou verdruk het, sal gebukkend na jou toe trek; en almal wat jou verag het, sal hulle neerbuig by jou voetsole; en hulle sal jou noem: Stad van die Here, Sion van die Heilige van Israel.

15. In plaas dat jy verlate en gehaat is sonder dat iemand daar deurtrek, sal Ek jou maak tot ’n ewige heerlikheid, ’n vreugde van geslag tot geslag.

16. En jy sal die melk van nasies suig en die bors van konings suig en sal weet dat Ek, die Here, jou Heiland is, en jou Losser die Magtige van Jakob.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 60