Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 54:10-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die Here, jou Ontfermer.

11. Jy, ellendige, deur storm gejaagde, ongetrooste! Kyk, Ek lê jou stene in sierklei, en Ek grondves jou in saffiere;

12. en jou borswerings maak Ek van robyne en jou poorte van karbonkels en jou hele ringmuur van edelgesteentes.

13. En al jou kinders sal deur die Here geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.

14. Deur geregtigheid sal jy bevestig word; wees ver van verdrukking, want jy hoef nie bevrees te wees nie; en ver van verskrikking, want dit sal nie by jou kom nie.

15. As hulle ook die aanval begin — dit is nie uit My nie; wie jou aanval, sal oor jou val.

16. Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en ’n wapen voortbring volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel.

17. Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van die Here en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die Here.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 54