Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 54:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. JUBEL, onvrugbare, wat nie gebaar het nie! Breek uit in gejubel en juig, jy wat geen weë gehad het nie! Want die kinders van die eensame is meer as die kinders van die getroude, sê die Here.

2. Maak die plek van jou tent wyd, en laat hulle die doeke van jou tentwonings oopspan. Verhinder dit nie! Maak jou lyne lank en slaan jou penne styf in.

3. Want jy sal regs en links uitbreek, en jou nageslag sal nasies in besit neem en verwoeste stede bevolk.

4. Wees nie bevrees nie, want jy sal nie beskaamd staan nie; en vrees geen skande nie, want jy sal nie nodig hê om te bloos nie; maar jy sal die skande van jou jonkheid vergeet en aan die smaad van jou weduweeskap nie meer dink nie.

5. Want jou Maker is jou Man; Here van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde genoem word.

6. Want soos ’n verlate vrou en ’n bedroefde van gees het die Here jou geroep, en soos ’n vrou uit die jeugtyd as sy versmaad was, sê jou God.

7. Vir ’n klein oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot ontferminge sal Ek jou vergader.

8. In ’n uitstorting van toorn het Ek vir ’n oomblik my aangesig vir jou verberg, maar met ewige goedertierenheid ontferm Ek My oor jou, sê die Here, jou Verlosser.

9. Soos in die dae van Noag is dit vir My: soos Ek gesweer het dat die waters van Noag nie meer oor die aarde sou gaan nie, so het Ek gesweer dat Ek nie op jou toornig sal wees of jou sal dreig nie.

10. Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die Here, jou Ontfermer.

11. Jy, ellendige, deur storm gejaagde, ongetrooste! Kyk, Ek lê jou stene in sierklei, en Ek grondves jou in saffiere;

Lees volledige hoofstuk Jesaja 54