Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 49:4-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Maar Ék het gesê: Tevergeefs het Ek My vermoei, my krag vir niks en vrugteloos verteer! Nogtans is my reg by die Here, en my loon is by my God.

5. En nou sê die Here wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees, om Jakob na Hom terug te bring en dat Israel by Hom versamel mag word — en Ek word geëer in die oë van die Here, en my God is my sterkte —

6. Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ’n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.

7. So sê die Here, die Verlosser van Israel, sy Heilige, aan die diep veragte, aan Hom wat ’n afsku is by die volk, ’n Kneg van die heersers: Konings sal dit sien en opstaan, vorste, en hulle sal hul neerbuig ter wille van die Here wat getrou is, van die Heilige van Israel wat U uitverkies het.

8. SO sê die Here: In die tyd van die welbehae het Ek U verhoor, en in die dag van heil het Ek U gehelp; en Ek behoed U en gee U as ’n verbond van die volk, om die land weer op te rig, om verwoeste erfenisse te laat beërwe;

9. om te sê aan die gevangenes: Gaan uit! aan hulle wat in duisternis is: Kom te voorskyn! By die paaie sal hulle wei, en op al die kaal heuwels sal hulle weiveld wees.

10. Hulle sal geen honger en geen dors hê nie, en die woestyngloed en die son sal hulle nie steek nie; want hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water.

11. En Ek sal al my berge tot ’n weg maak, en my grootpaaie sal opgevul wees.

12. Kyk, hulle hiér kom van ver, en kyk, hulle dáár kom van die noorde en van die weste, en hulle dáár kom uit die land van die Siniete.

13. Jubel, o hemele, en juig, aarde; en berge breek uit in gejubel! Want die Here het sy volk getroos en ontferm Hom oor sy ellendiges.

14. MAAR Sion sê: Die Here het my verlaat, en die Here het my vergeet!

15. Kan ’n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!

16. Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My.

17. Jou seuns kom gou, maar jou verwoesters en jou vernielers sal van jou af wegtrek.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 49