Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 48:4-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Omdat Ek geweet het dat jy halsstarrig is, en jou nek ’n ystersening is, en jou voorhoof koper,

5. daarom het Ek jou dit lank tevore verkondig; voordat dit gekom het, het Ek jou dit laat hoor, dat jy nie sou sê: My afgod het dit gedoen, of my gesnede beeld of my gegote beeld het dit beveel nie.

6. Jy het dit gehoor — aanskou dit alles! Sal júlle dit dan nie verkondig nie? Van nou af laat Ek jou nuwe dinge hoor en geheime wat jy nie geweet het nie.

7. Nou is hulle geskape en nie tevore nie; en voor vandag het jy niks daarvan gehoor nie, dat jy nie sou sê: Kyk, ek het dit geweet nie!

8. Ja, jy het dit nie gehoor nie, ook het jy dit nie geweet, ook het jou oor tevore nie daarvoor oopgegaan nie; want Ek het geweet dat jy baie troueloos handel, en dat jy van die moederskoot af ’n oortreder genoem is.

9. Om my Naam ontwil vertraag Ek my toorn, en om my roem ontwil bedwing Ek My jou ten goede, om jou nie uit te roei nie.

10. Kyk, Ek het jou gelouter, maar nie soos silwer nie; Ek het jou beproef in die smeltkroes van ellende.

11. Om My ontwil, om My ontwil sal Ek dit doen — want ag, hoe is my Naam ontheilig! — en Ek sal my eer aan geen ander gee nie.

12. Luister na My, o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek; Ek is die Eerste, ook is Ek die Laaste.

13. Ook het my hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei; as Ek hulle roep, staan hulle daar almal saam.

14. Kom bymekaar, julle almal, en luister! Wie onder hulle het dit verkondig? Hy vir wie die Here liefhet, sal sy welbehae voltrek aan Babel, en sy mag aan die Chaldeërs.

15. Ek, Ek het dit gespreek, ook hom geroep; Ek het hom laat kom, en in sy weg sal hy voorspoedig wees.

16. Kom julle nader na My, hoor dit: Ek het van die begin af nie in die geheim gespreek nie; van die tyd af dat dit gebeur, is Ek daar! En nou het die Here Here my met sy Gees gestuur.

17. So sê die Here, jou Verlosser, die Heilige van Israel: Ek is die Here jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 48