Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 47:1-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. KOM af en sit in die stof, jonkvrou, dogter van Babel! Sit op die grond sonder troon, dogter van die Chaldeërs! Want jy sal nie langer genoem word die vertroetelde en verwénde nie.

2. Neem die handmeul en maal meel; slaan jou sluier op, tel die kleed op, ontbloot die been, trek deur die riviere!

3. Laat jou skaamte ontbloot word, ja, jou skande gesien word! Ek sal wraak neem en geen mens verskoon nie.

4. Ons Verlosser — sy Naam is Here van die leërskare, die Heilige van Israel.

5. Sit doodstil, en gaan in die duisternis, dogter van die Chaldeërs! want jy sal nie langer genoem word gebiedster van die koninkryke nie.

6. Ek was toornig op my volk, Ek het my erfdeel ontheilig en hulle in jou hand oorgegee: jy het hulle geen barmhartigheid bewys nie, op die grysaard het jy jou juk baie swaar laat druk

7. en gesê: Ek sal in ewigheid wees, gebiedster vir altyd; jy het hierdie dinge nie ter harte geneem nie, aan die einde daarvan nie gedink nie.

8. Hoor dan nou dit, wellustige wat so veilig sit, wat in jou hart sê: Dit is ek en niemand anders nie! Ek sal nie as weduwee sit of kinderloosheid ken nie.

9. Hierdie twee dinge sal dan in ’n oomblik, op een dag, oor jou kom: kinderloosheid en weduweeskap; in volle maat sal hulle jou oorval, ondanks die veelheid van jou towerye, ondanks die groot menigte van jou besweringe.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 47