Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 45:17-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. ISRAEL word verlos deur die Here met ’n ewige verlossing; julle sal nie beskaamd staan of in die skande kom tot in alle ewigheid nie.

18. Want so sê die Here, wat die hemele geskape het — Hy is God! — wat die aarde geformeer en dit gemaak het — Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word — Ek is die Here, en daar is geen ander nie.

19. Ek het in die geheim nie gespreek nie — op ’n plek van die donker land; Ek het aan die geslag van Jakob nie gesê: Soek My tevergeefs nie. Ek is die Here wat geregtigheid spreek, wat regte dinge verkondig.

20. Versamel julle en kom, kom almal nader, julle wat uit die nasies ontvlug het! Hulle weet niks, wat die hout van hul gesnede beeld dra en ’n god aanbid wat nie kan verlos nie.

21. Verkondig en bring voor, ja, laat hulle saam raad hou: Wie het dit van ouds af laat hoor, lank tevore dit verkondig? Is dit nie Ek, die Here, nie? En buiten My is daar geen ander God nie: ’n regverdige en reddende God is daar buiten My nie.

22. Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is God, en daar is geen ander nie.

23. Ek sweer by Myself; geregtigheid gaan uit my mond, ’n woord wat nie herroep word nie: dat voor My elke knie sal neerbuig, by My elke tong sal sweer.

24. Hulle sal van My sê: Alleen in die Here is volle geregtigheid en sterkte; na Hom sal hulle kom; maar hulle almal sal beskaamd staan wat op Hom toornig is.

25. In die Here sal geregverdig word en hulle beroem die hele geslag van Israel.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 45