Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 45:14-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. So sê die Here: Die opbrings van Egipte en die handelswins van Kus en die Sabeërs, manne van hoë gestalte, sal na jou toe oorkom en joue wees; hulle sal agter jou loop; in kettings sal hulle oortrek en hulle voor jou buig; hulle sal jou smeek en sê: Waarlik, God is in jou; en anders is daar geen, geen God meer nie!

15. Waarlik, U is ’n God wat U verborge hou, die God van Israel, die Heiland.

16. Hulle het beskaamd gestaan en ook in die skande gekom, hulle almal; hulle het tesame met skande heengegaan — die wat afgode maak.

17. ISRAEL word verlos deur die Here met ’n ewige verlossing; julle sal nie beskaamd staan of in die skande kom tot in alle ewigheid nie.

18. Want so sê die Here, wat die hemele geskape het — Hy is God! — wat die aarde geformeer en dit gemaak het — Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word — Ek is die Here, en daar is geen ander nie.

19. Ek het in die geheim nie gespreek nie — op ’n plek van die donker land; Ek het aan die geslag van Jakob nie gesê: Soek My tevergeefs nie. Ek is die Here wat geregtigheid spreek, wat regte dinge verkondig.

20. Versamel julle en kom, kom almal nader, julle wat uit die nasies ontvlug het! Hulle weet niks, wat die hout van hul gesnede beeld dra en ’n god aanbid wat nie kan verlos nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 45