Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 44:4-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. En hulle sal uitspruit tussen die gras in, soos wilgerbome by waterlope.

5. Die een sal sê: Ek behoort aan die Here; en die ander sal die naam van Jakob uitroep; en die ander sal met sy hand skrywe: Ek behoort aan die Here, en hom met die erenaam Israel noem.

6. SO sê die Here, die Koning van Israel en sy Losser, die Here van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie.

7. En wie roep soos Ek — laat hom dit dan te kenne gee en aan My voorlê — vandat Ek die volk van die ou tyd gegrond het? En laat hulle die toekomstige dinge en wat sal gebeur, te kenne gee.

8. Wees nie verskrik nie, en moenie bewe nie! Het Ek jou dit nie lank tevore laat hoor en te kenne gegee nie? En júlle is my getuies! Is daar ’n God buiten My? Ja, daar is geen rotssteen nie; Ek ken geeneen nie.

9. Hulle wat gesnede beelde maak, is almal nietigheid, en hulle lieflinge bring geen voordeel nie; en hulle getuies — dié sien niks en weet niks, sodat hulle beskaamd staan.

10. Wie maak ’n god en giet ’n beeld wat geen voordeel aanbring nie?

11. Kyk, al sy aanhangers sal beskaamd staan; en die ambagsmanne is uit die mense! Laat hulle almal bymekaarkom, gaan staan, verskrik wees, tesame beskaamd staan!

12. Die ystersmid het ’n byl en werk in die gloed; en hy maak hom met hamers en bewerk hom met sy sterk arm; daarby word hy honger en het geen krag nie; drink hy geen water nie, dan word hy moeg.

13. Die timmerman span ’n lyn; hy trek hom af met ’n potlood; hy bewerk hom met skawe en teken hom met ’n passer en maak hom na die beeltenis van ’n man, na die skoonheid van ’n mens, om in ’n huis te woon.

14. Een gaan sederbome afkap, en hy neem ’n steeneik of ’n eikeboom en laat een vir hom opgroei onder die bome van die bos. Hy het ’n pynboom geplant, en die reën het dit grootgemaak.

15. Dan dien dit die mens as brandhout, en hy neem daarvan en maak hom warm; ook steek hy dit aan die brand en bak brood; ook maak hy daar ’n god van en buig hom daarvoor neer; hy maak daar ’n gesnede beeld van en kniel daarvoor neer.

16. Die helfte daarvan het hy in die vuur verbrand: by die een helfte eet hy vleis, hy maak braaivleis klaar en word versadig; ook maak hy hom warm en sê: Ha, ek het warm geword, ek het vuur gesien!

Lees volledige hoofstuk Jesaja 44