Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 43:14-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. So sê die Here, jou Losser, die Heilige van Israel: Om julle ontwil het Ek na Babel gestuur, en Ek sal hulle almal as vlugtelinge laat afdaal, naamlik die Chaldeërs, in die skepe waarop hulle gejuig het.

15. Ek is die Here, julle Heilige; die Skepper van Israel, julle Koning.

16. So sê die Here wat in die see ’n weg en in die sterk waters ’n pad gemaak het,

17. wat waens en perde, leërmag en held laat uittrek het; tesame lê hulle, hulle sal nie opstaan nie; hulle is uitgeblus, soos ’n lamppit uitgedoof.

18. Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie.

19. Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ’n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.

20. Die wilde diere van die veld sal My eer, die jakkalse en die volstruise; want Ek gee waters in die woestyn, riviere in die wildernis om my volk, my uitverkorene, te laat drink.

21. Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal my lof verkondig.

22. NOGTANS het jy Mý nie aangeroep, o Jakob, dat jy jou vir My sou vermoei het nie, o Israel!

23. Jy het vir My nie gebring die kleinvee van jou brandoffers nie, en met jou slagoffers het jy My nie geëer nie; Ek het jou geen oorlas aangedoen met spysoffers en jou nie vermoei met wierook nie.

24. Jy het vir My geen kalmoes met geld gekoop en met die vet van jou slagoffers My nie verkwik nie; maar jy het My oorlas aangedoen met jou sondes, jy het My vermoei met jou ongeregtighede.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 43