Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 42:5-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. So sê God, die Here, wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het saam met wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem gee en die gees aan wie daarop wandel:

6. Ek, die Here, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as ’n verbond van die volk, as ’n lig van die nasies,

7. om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit.

8. EK is die Here, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie.

9. Kyk, die vorige dinge het gekom, en nuwe dinge verkondig Ek; voordat hulle uitspruit, laat Ek julle dit hoor.

10. Sing tot eer van die Here ’n nuwe lied, sy lof van die einde van die aarde af — julle wat op die see vaar, en alles wat daarin is, eilande en bewoners daarvan.

11. Laat die woestyn en sy stede uitroep, die dorpe waar Kedar woon! Laat die rotsbewoners jubel, van die top van die berge af skreeu!

12. Laat hulle aan die Here die eer gee en sy lof in die eilande verkondig!

13. Die Here sal uittrek soos ’n held; Hy sal die ywer opwek soos ’n krygsman; Hy sal die strydkreet aanhef, ja uitskreeu, teen sy vyande Hom as held openbaar.

14. Ek het baie lank geswyg, My stil gehou, My bedwing. Ek sal uitskreeu soos een wat baar, Ek sal hard asemhaal en hyg tegelykertyd.

15. Ek sal berge en heuwels woes maak en al hulle plante laat verdroog; en Ek sal riviere tot eilande maak en waterplasse laat opdroog.

16. En Ek sal blindes lei op ’n weg wat hulle nie ken nie, hulle laat loop op paaie wat vir hulle onbekend is; Ek sal die duisternis lig maak voor hulle uit en die hobbelagtige plekke gelyktes. Dit is die dinge wat Ek doen en nie nalaat nie.

17. Maar die wat op gesnede beelde vertrou, wat aan gegote beelde sê: Julle is ons gode — dié sal agteruitwyk, diep beskaamd staan.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 42