Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 42:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DAAR is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ’n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring.

2. Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie.

3. Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring.

4. Hy sal nie dof brand of geknak word, totdat Hy die reg op aarde gegrond het nie; en die eilande wag op sy leer.

5. So sê God, die Here, wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het saam met wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem gee en die gees aan wie daarop wandel:

6. Ek, die Here, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as ’n verbond van die volk, as ’n lig van die nasies,

7. om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit.

8. EK is die Here, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie.

9. Kyk, die vorige dinge het gekom, en nuwe dinge verkondig Ek; voordat hulle uitspruit, laat Ek julle dit hoor.

10. Sing tot eer van die Here ’n nuwe lied, sy lof van die einde van die aarde af — julle wat op die see vaar, en alles wat daarin is, eilande en bewoners daarvan.

11. Laat die woestyn en sy stede uitroep, die dorpe waar Kedar woon! Laat die rotsbewoners jubel, van die top van die berge af skreeu!

12. Laat hulle aan die Here die eer gee en sy lof in die eilande verkondig!

Lees volledige hoofstuk Jesaja 42