Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 41:7-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. En die ambagsman het die goudsmid versterk, hy wat met die hamer plat slaan, hom wat op die aambeeld slaan, terwyl hy van die soldeersel sê: Dit is goed! Daarna slaan hy dit vas met spykers, dat dit nie wankel nie.

8. MAAR jy, Israel, my kneg, Jakob, wat Ek uitverkies het, nageslag van Abraham, my vriend,

9. jy, wat Ek gegryp het van die eindes van die aarde en van sy uithoeke geroep het, en Ek het aan jou gesê: Jy is my kneg; jou het Ek uitverkies en jou nie verwerp nie.

10. Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.

11. Kyk, hulle almal sal beskaamd staan en in die skande kom wat op jou toornig is; hulle sal word soos niks, en jou teëparty sal omkom.

12. Jy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie — die manne wat met jou twis; hulle sal word soos niks en soos ’n nietige ding — die manne wat teen jou oorlog voer.

13. Want Ek, die Here jou God, gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê: Wees nie bevrees nie, Ek help jou.

14. Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob, volkie Israel! Ék help jou, spreek die Here, en jou Losser is die Heilige van Israel.

15. Kyk, Ek maak jou tot ’n skerp, nuwe dorsslee wat baie tande het: jy sal berge dors en fyn maal, en heuwels maak soos kaf.

16. Jy sal hulle uitwan, en die wind sal hulle wegneem en die storm hulle verstrooi; maar jy sal juig in die Here, jou beroem op die Heilige van Israel.

17. Die ellendiges en behoeftiges soek water, maar daar is nie; hulle tong verdroog van dors; Ek, die Here, sal hulle verhoor; Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie.

18. Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die laagtes; Ek sal die woestyn ’n waterplas maak en die dor land waterbronne.

19. Ek sal in die woestyn gee die seder, die akasia en die mirt en die wilde-olyfboom; Ek sal in die wildernis plant die sipres, die plataan en die denneboom, dié almal;

20. sodat hulle almal saam kan sien en beken en opmerk en verstaan dat die hand van die Here dit gedoen het en die Heilige van Israel dit geskape het.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 41