Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 40:6-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. ’n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ’n blom van die veld.

7. Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die Here daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras!

8. Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.

9. o Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op ’n hoë berg! o Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God!

10. Kyk, die Here Here sal kom as ’n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig.

11. Hy sal sy kudde laat wei soos ’n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.

12. WIE het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met ’n span die maat geneem, en in ’n drieling die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met ’n weegtoestel en die heuwels met ’n weegskaal?

13. Wie het die Gees van die Here bestier en as sy raadsman Hom onderrig?

14. Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig?

15. Kyk, die nasies is soos ’n druppel aan die emmer, en soos ’n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos ’n stoffie!

16. En die Líbanon is nie genoeg as brandhout en sy wild nie genoeg as brandoffer nie.

17. Al die nasies is voor Hom soos niks: as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken.

18. By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel?

19. Die ambagsman giet ’n beeld, en die goudsmid trek dit oor met goud en smelt silwerkettings.

20. Wie te arm is vir so ’n offergawe, kies ’n stuk hout wat nie vergaan nie; hy soek vir hom ’n kunsvaardige ambagsman om ’n beeld op te rig wat nie wankel nie.

21. Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie? Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie?

Lees volledige hoofstuk Jesaja 40