Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 40:15-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. Kyk, die nasies is soos ’n druppel aan die emmer, en soos ’n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos ’n stoffie!

16. En die Líbanon is nie genoeg as brandhout en sy wild nie genoeg as brandoffer nie.

17. Al die nasies is voor Hom soos niks: as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken.

18. By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel?

19. Die ambagsman giet ’n beeld, en die goudsmid trek dit oor met goud en smelt silwerkettings.

20. Wie te arm is vir so ’n offergawe, kies ’n stuk hout wat nie vergaan nie; hy soek vir hom ’n kunsvaardige ambagsman om ’n beeld op te rig wat nie wankel nie.

21. Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie? Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie?

22. Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos ’n dun doek en sprei dit uit soos ’n tent om in te woon.

23. Hy maak die vorste tot niet, die heersers van die aarde verander Hy in nietigheid;

24. skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars wortel hulle stam in die grond, of Hy blaas op hulle, sodat hulle verdor, en die storm voer hulle weg soos ’n stoppel.

25. By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige.

26. Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.

27. WAAROM sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die Here verborge, en my reg gaan by my God verby?

28. Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ’n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 40