Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 38:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. IN dié dae het Hiskía dodelik siek geword; en die profeet Jesaja, die seun van Amos, het by hom gekom en vir hom gesê: So spreek die Here: Gee bevel aan jou huis, want jy sal sterwe en nie lewe nie.

2. Toe draai Hiskía sy gesig na die muur, en hy het tot die Here gebid

3. en gesê: Ag, Here, dink tog daaraan dat ek voor u aangesig in trou en met ’n volkome hart gewandel het en gedoen het wat goed is in u oë. En Hiskía het bitterlik geween.

4. Toe het die woord van die Here tot Jesaja gekom en gesê:

5. Gaan sê vir Hiskía: So spreek die Here, die God van jou vader Dawid: Ek het jou gebed gehoor, jou trane gesien; kyk, Ek sal vyftien jaar by jou dae byvoeg,

6. en Ek sal jou uit die hand van die koning van Assirië red en ook hierdie stad; en Ek sal hierdie stad beskut.

7. En dit sal vir jou die teken wees van die kant van die Here, dat die Here hierdie woord wat Hy gespreek het, sal volbring:

8. Kyk, Ek sal die skaduwee op die grade wat dit gedaal het deur die son op die grade van Agas se sonnewyser, laat teruggaan, tien grade agteruit. En die son het tien grade teruggegaan op die grade wat dit gedaal het.

9. GESKRIF van Hiskía, die koning van Juda, toe hy siek was en van sy siekte gesond geword het.

10. Ek het gesê: In die bloei van my dae moet ek heengaan in die poorte van die doderyk; ek word beroof van my orige jare.

11. Ek het gesê: Ek sal die Here nie sien nie, die Here, in die land van die lewendes; ek sal die mense nie meer aanskou onder die inwoners van die wêreld nie.

12. My woning is opgebreek en van my af weggevoer soos ’n herderstent; ek het my lewe opgerol soos ’n wewer sy weefsel; Hy sny my van die wewersbalk af; van dag tot nag gee U my prys.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 38