Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 37:5-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. En toe die dienaars van koning Hiskía by Jesaja kom,

6. sê Jesaja vir hulle: So moet julle jul heer antwoord: So spreek die Here: Vrees nie vir die woorde wat jy gehoor het, waarmee die dienaars van die koning van Assirië My gelaster het nie.

7. Kyk, Ek sal ’n gees in hom gee, dat hy ’n gerug hoor en na sy land terugtrek; en Ek sal hom in sy land deur die swaard laat val.

8. Daarop het die rábsake teruggegaan en die koning van Assirië aangetref terwyl hy besig was om teen Libna te veg; want hy het gehoor dat hy van Lagis af weggetrek het.

9. En toe hy van Tirháka, die koning van Kus, hoor sê: Hy het uitgetrek om teen u te veg — toe hy dit hoor, stuur hy boodskappers na Hiskía met die opdrag:

10. So moet julle aan Hiskía, die koning van Juda, sê: Laat u God op wie u vertrou, u nie bedrieg nie deur te sê: Jerusalem sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie.

11. Kyk, u het self gehoor wat die konings van Assirië aan al die lande gedoen het deur dit met die banvloek te tref, en sou ú gered word?

12. Het die gode van die nasies wat my vaders uitgeroei het, hulle gered — Gosan en Haran en Resef en die kinders van Eden wat in Telássar was?

13. Waar is die koning van Hamat en die koning van Arpad en die koning van die stad Sefarváim, van Hena en Iwa?

14. En toe Hiskía die brief uit die hand van die boodskappers ontvang en dit gelees het, het hy opgegaan na die huis van die Here; en Hiskía het dit uitgesprei voor die aangesig van die Here,

15. En Hiskía het tot die Here gebid en gesê:

16. o Here van die leërskare, God van Israel wat op die gérubs troon! U alleen is die God van al die koninkryke van die aarde; Ú het die hemel en die aarde gemaak.

17. o Here, neig u oor en luister! Here, open u oë en kyk en hoor al die woorde van Sánherib, wat hy gestuur het om die lewende God te smaad!

18. Waarlik, Here, die konings van Assirië het al die lande en hulle gebied verwoes

19. en hulle gode in die vuur gegooi; want dit was geen gode nie, maar werk van mensehande, hout en klip — daarom kon hulle dié vernietig.

20. Here onse God, verlos ons dan nou uit sy hand, sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, Here, dit alleen is.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 37