Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 37:18-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. Waarlik, Here, die konings van Assirië het al die lande en hulle gebied verwoes

19. en hulle gode in die vuur gegooi; want dit was geen gode nie, maar werk van mensehande, hout en klip — daarom kon hulle dié vernietig.

20. Here onse God, verlos ons dan nou uit sy hand, sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, Here, dit alleen is.

21. Toe laat Jesaja, die seun van Amos, vir Hiskía weet: So spreek die Here, die God van Israel: Wat jy tot My gebid het aangaande Sánherib, die koning van Assirië, het Ek gehoor.

22. Dit is die woord wat die Here oor hom gespreek het: Die jonkvrou, die dogter van Sion, verag jou, bespot jou; agter jou skud die dogter van Jerusalem die hoof.

23. Wie het jy gesmaad en gelaster? En teen wie het jy die stem verhef en jou oë hoogmoedig opgehef? Teen die Heilige van Israel!

24. Deur jou dienaars het jy die Here gesmaad en gesê: Met die menigte van my strydwaens het ek geklim op die hoogte van die berge, die uithoeke van die Líbanon, en ek wil sy statige seders, die keur van sy sipresse, omkap en deurdring tot sy uiterste hoogte, sy bos wat is soos ’n tuin.

25. Ék het gegrawe en water gedrink en laat met die sool van my voete al die strome van Egipte opdroog.

26. Het jy dit nie gehoor nie? Van lankal het Ek dit berei, van die dae van die voortyd af dit beskik. Nou het Ek dit laat kom, dat jy versterkte stede tot puinhope kom verwoes.

27. En hulle inwoners was magteloos, het verskrik en beskaamd gestaan; hulle was soos plante van die veld en groen grassies, soos gras van die dakke en ’n koringland voordat dit are skiet.

28. Maar Ek ken jou sit en jou uitgang en jou ingang en hoe jy teen My raas.

29. Omdat jy teen My raas en jou trotsheid opgekom het in my ore, daarom sal Ek my haak in jou neus sit en my toom tussen jou lippe en jou terugbring met die pad waarmee jy gekom het.

30. En dit sal vir jou die teken wees: Eet hierdie jaar wat vanself opslaan, en in die tweede jaar wat dan nog opkom; maar in die derde jaar — saai en oes, en plant wingerde en eet die vrugte daarvan.

31. Dan sal die vrygeraaktes wat oorgebly het van die huis van Juda, weer wortel skiet ondertoe en vrugte dra boontoe.

32. Want uit Jerusalem sal ’n oorblyfsel uitgaan en vrygeraaktes van die berg Sion. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 37