Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 34:2-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Want die toorn van die Here is oor al die nasies, en grimmigheid oor al hulle leërskare; Hy het hulle met die banvloek getref, Hy het hulle oorgegee om geslag te word.

3. En hulle gesneuweldes sal weggewerp word, en die stank van hulle lyke gaan op, en die berge smelt van hulle bloed.

4. En al die leërskare van die hemel vergaan, en die hemel word inmekaar gerol soos ’n boek en al sy leërskare val af soos ’n blad van die wingerdstok afval en soos vye afval van die vyeboom.

5. Want my swaard het dronk geword in die hemel; kyk, dit kom af op Edom en op die volk van my banvloek, om geoordeel te word.

6. Die swaard van die Here is vol bloed, dit drup van vet, van die bloed van lammers en bokke, van die niervet van ramme; want die Here het ’n slagoffer in Bosra en ’n groot slagting in die land Edom.

7. Dan val die buffels saam met hulle, en die jong stiere saam met die stiere; en hulle land word dronk van bloed, en hulle stof versadig van vet.

8. Want die Here hou ’n dag van wraak, ’n jaar van vergelding in die regsaak van Sion.

9. En sy strome sal in pik verander word en sy stof in swawel, en sy land sal brandende pik word.

10. Dit sal snags of oordag nie uitgeblus word nie; vir ewig gaan sy rook op; van geslag tot geslag lê dit woes, vir altyd en ewig trek niemand daardeur nie.

11. Maar die pelikaan en die krimpvarkie neem dit in besit, en die uil en die kraai woon daarin. En Hy sal die riglyn van woestheid daaroor span en die skietlood van vormloosheid.

12. Sy edeles — daar sal hulle geen koninkryk meer uitroep nie, en met al sy vorste is dit gedaan.

13. En sy paleise word begroei met dorings, brandnekels en distels sal in sy vestings wees. En dit sal ’n lêplek van jakkalse, ’n verblyf vir die volstruise wees.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 34