Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 33:1-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. WEE jou, verwoester, wat self nie verwoes is nie, en troubreker teen wie nie troueloos gehandel is nie! As jy klaar is met verwoes, sal jy verwoes word; en as jy klaar is met troubreuk, sal hulle troueloos teen jou handel.

2. Here, wees ons genadig, op U wag ons; wees hulle arm elke môre, ja, ons verlossing in die tyd van benoudheid!

3. Vir die dawergeluid vlug die volke; vanweë u verheffing word die nasies verstrooi.

4. Dan word julle buit weggeskraap soos sprinkane wegskraap; soos sprinkane hardloop, hardloop hulle daarop los.

5. Die Here is verhewe, want Hy woon in die hoogte; Hy het Sion vervul met reg en geregtigheid.

6. En daar sal bestendigheid van jou tye wees, ’n rykdom van volle verlossing, van wysheid en kennis; die vrees van die Here sal sy skat wees.

7. Kyk, die helde skreeu daarbuite, die boodskappers van vrede ween bitterlik.

8. Die grootpaaie is verlate; die wat padlangs trek, bly weg. Hy het die verbond verbreek, die stede gering geag, mense nie gereken nie.

9. Die land treur, dit verwelk; die Líbanon staan beskaamd, dit verkwyn; Saron het geword soos ’n woestynvlakte, Basan en Karmel staan sonder blare.

10. Nou sal Ek opstaan, sê die Here; nou sal Ek My verhef, nou sal Ek My oprig.

11. Julle gaan swanger van strooi, julle sal stoppels baar; julle geblaas is ’n vuur wat julle sal verteer.

12. Dan word die volke ’n kalkbrandery, afgekapte doringbosse wat met vuur verbrand word.

13. Hoor, julle wat ver is, wat Ek gedoen het; en julle wat naby is, erken my mag!

14. Die sondaars in Sion bewe, siddering het die roekelose aangegryp. Hulle sê: Wie van ons kan woon by ’n verterende vuur, wie van ons kan woon by ’n ewige gloed?

15. Hy wat in geregtigheid wandel en spreek wat reg is, wat gewin deur afpersinge versmaad, wat sy hande uitskud om geen omkoopgeskenk aan te gryp nie, wat sy oor toestop om van geen bloedskuld te hoor nie, en sy oë sluit om wat sleg is, nie te sien nie —

16. hy sal op hoogtes woon, rotsvestings is sy burg; sy brood word hom gegee, sy water is gewis.

17. Jou oë sal die Koning in sy skoonheid aanskou, dit sal ’n wyd uitgestrekte land sien.

18. Jou hart sal die deurgestane verskrikking oordink en sê: Waar is hy wat getel het? Waar is hy wat geweeg het? Waar is hy wat die torings opgeskryf het?

19. Jy sal die onbeskaamde volk nie meer sien nie, die volk met duister, onverstaanbare spraak, met onbegryplike hakkeltong.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 33