Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 32:7-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. En die skelm — sy middele is sleg, hý beraam skandelike dade om die ellendiges te ruïneer met leuentaal, ook as die behoeftige spreek wat reg is.

8. Maar die edele beraam edele dade, en hý hou stand in wat edel is.

9. STAAN op, geruste vroue, hoor my stem! Sorgelose dogters, luister na my woord!

10. ’n Jaar en ’n paar dae — en julle sal sidder, sorgelose dogters! Want dit is gedaan met die druiwe-oes, daar sal geen insameling van vrugte kom nie.

11. Bewe, geruste vroue! Sidder, sorgelose dogters! Trek julle uit, ontbloot julle en gord rougewade om julle lendene.

12. Hulle slaan op die bors vanweë die begeerlike velde, vanweë die vrugbare wingerdstok;

13. vanweë die akkers van my volk wat met dorings en distels opskiet, ja, vanweë al die huise van vreugde van die uitgelate stad.

14. Want die paleis is verlate, die stadsgewoel is in eensaamheid verander; die Heuwel en die Wagtoring dien as spelonke vir ewig, ’n vreugde vir die wilde-esels, ’n weiveld vir die troppe vee —

15. totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte; dan word die woestyn ’n vrugteboord, en die vrugteboord self word vir ’n bos gereken.

16. En die reg woon in die woestyn, en die geregtigheid hou verblyf in die vrugteboord.

17. En die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 32